Tieners

 

motivating teenagers

Toe ek op skool was, was “sekuriteit” die wagwoord. Na matriek moes jy vir iets gaan leer wat jou die sekuriteit van ‘n mediese- en pensioenfonds kon gee. Talle van die geleenthede waaruit mense vandag geld maak het toe nog nie bestaan nie. Niemand was “in IT” nie, en die eerste rekenaars was groter as ‘n kleinhuisie – en dalk selfs ‘n klein huisie! Net so sal baie van die tradisionele beroepe in die volgende paar dekades verdwyn en vandag se tieners sal ryk word uit geleenthede wat nou nog nie bestaan nie. Maar rus die skole hulle behoorlik daarvoor toe?

As ek op skool meer van persoonlike groei kon leer, sou ek baie meer selfvertroue gehad het en nie eers in my 30’s ‘n omroeper geword het nie. Op my reis van selfontwikkeling oor die afgelope jare het ek gereeld gevra: “Hoekom het hulle ons dit nie op skool geleer nie?” Ek wil graag ‘n verskil maak in ander se lewens en daarom het ek ‘n lekker loslit motiveringspraatjie vir tieners saamgestel – gebaseer op tonne navorsing en my eie ondervinding. Dit is ideaal vir skole of kerke se jeuggroepe. Ek kan dit aanpas by ‘n spesifieke tema, anders noem ek dit sommer Wen jou grootste wedstryd!

Omdat tieners gewoonlik sportmal is, gebruik ek die analogie dat die lewe soos ‘n sportwedstryd is, maar dit gaan oor meer as om interskole te wen. Jy ding met jouself mee en die uitslag bepaal jou toekoms. Van die hoofpunte is:

# As jy swak gevaar het op skool, is dit nie die einde van die wêreld nie. Tussen die wêreld se 10 rykste mense het hulle net 3 grade en baie mense wat op skool A en B-simbole gehad het, werk vandag vir mense wat C’s en D’s gehad het. Wat is die verskil tussen wenners in verloorders in die lewe?

# Ons almal maak foute, maar die grootste fout wat jy kan maak is om dit saam te sleep die toekoms in. As jy in sport ‘n doel verbrou het of ‘n dubbelfout gemaak het, leer daaruit en sit dit agter jou. Dis net finaal en fataal as jy nie weer probeer nie.

# As jy die regte beroep vir jou kies, is jou frustrasie baie minder en jou geluk baie meer. As geld mense gelukkig gemaak het, hoekom glimlag mense in sportmotors minder as die in skedonke? Dink mooi voor jy ‘n loopbaan kies en moet jouself nie met ander vergelyk nie. Jy is uniek. Op hulle stefbed is mense se grootste berou dat hulle nooit hulle eie drome gevolg het nie, maar geleef het volgens ander se verwagtinge.

# Net soos skeidsregters, ouers en onderwysers is die lewe nie altyd regverdig nie, so hou op om dit te verwag. Die mense wat sukses behaal is die wat ophou om alles en almal te blameer (al het hulle rede) en verantwoordelikheid vir hulleself aanvaar.

# Leer ‘n paar maklike rituele aan wat gevolg word deur meer as 90% van alle ryk en suksesvolle mense. Almal wat dit toepas sal gelukkiger en suksesvoller wees!

Dit sal ‘n voorreg wees om die tieners by jou kerk of skool ook te help. Kontak my by losliprsg@gmail.com om dit te reël en moenie vergeet om te sê waar jy is en of jy ‘n spesifieke tema of ‘n vaste datum in gedagte het nie