Daar skuil mense tussen die regsreëls

Posted: 28th March 2014 by Ian Wessels in tuis
Comments Off

Mense staar hulle dikwels blind teen die opspraakwekkende getuienis wat in hofsake gelewer word, die regsprosedure wat volgens hulle onregverdig is, en advokate se “onbeskofte” kruisverhoor, maar die menslike aspekte is vir my selfs meer boeiend. Dis waar die lewe afspeel – sonder rigiede regsreëls wat alles beheer.

Hoe voel die Griekwastad tiener se familie wat hom deurentyd ondersteun het vandag? Glo hulle steeds hy is onskuldig en al die verdoemende getuienis teen hom is op een of ander manier ‘n fout, twyfel hulle, of voel hulle bedrieg deur hom en alles wat hy voorgegee het?

Wat gaan in sy eie gedagtes aan? Gaan hy berou toon tydens vonnisopolegging of steeds beweer die hof het ‘n reuse fout begaan? Die sielkundige verslae wat voorgelê gaan word sal boeiende leesstof wees en dalk antwoorde bied. Maar daar sal weer mense wees wat gáán sê die sielkundige maak ook ‘n fout – maak nie saak wat in sy verslag staan nie.

Hoe voel die tiener se ou skoolmaats by Grey Kollege? Kom ons aanvaar die hof se bevinding is korrek, hoe voel dit om te weet die outjie wat langs jou in die klas gesit het en een van julle was, is ‘n verkragter en drie dubbele moordenaar? Gaan dit ‘n nadelige invloed op die trotse skool se reputasie hê?

Dit is vir ‘n mens altyd onwerklik as iets gebeur wat só ver verwyderd is van jou eie ervaringsveld. Jou brein weier om dit te glo en jy hou aan dink daar móét ‘n ander logiese verduideliking wees. Jy kan jou vereenselwig met iemand wat ‘n inbreker doodskiet, of dalk selfs met ‘n moord gepleeg uit intense jaloesie of haat, maar ‘n voorbeeldige tiener wat ‘n familielid verkrag en dan koelbloedig 3 moorde pleeg om dit te verdoesel? Dit is net te onwerklik! Geen wonder almal het aanvanklik uitgevaar teen nog ‘n plaasmoord nie! Dit pas tog baie beter in met dit wat ons wil glo.

Ons veroordeel misdadigers maklik, maar net sommige misdadigers pas by ons geykte prentjie van boos, skelm, of wreedaardig. Hoe weet jy daar skuil nie dalk ‘n potensiële moordenaar binne in die persoon wat voor jou in die kerk sit nie? Of nog erger, in jouself nie? Hy is miskien op die oomblik vasgeboei iewers binne jou, maar watter toekomstige insident hou dalk die sleutel om sy boeie oop te sluit?

Ons sal nie weet nie – tot dit gebeur nie…

Kenners sonder kennis…

Posted: 26th March 2014 by Ian Wessels in tuis
Comments Off

“Little knowledge is a dangerous thing!” So lui die Engelse gesegde. ‘n Ou wat niks weet nie, weet ten minste hy weet niks nie, maar ‘n ou wat net ‘n bietjie weet, besef nooit hoe baie daar is wat hy nie weet nie. Dit het ek altyd geglo, maar vandag twyfel ek…

Ek kan heeltemal verstaan dat hofsake soos dié van Oscar en die Griekwastad tiener die verbeelding aangryp en mense laat wonder wat regtig gebeur het. Maar ek begryp nie lekker hoekom almal nou skielik kundiges is op die gebied van Bewysreg nie, en hoe mense wat nog nooit in ‘n hof was nie voel hulle kan ‘n ervare advokaat se kruisverhoor evalueer en dan die oordeel uitspreek dat hierdie skelm man nie verdien om snags rustig te slaap nie.

Hierdie mense is ook sommer kenners oor presies waar die grens lê tussen growwe nalatigheid en dolus eventualis en die invloed daarvan op ‘n skuldigbevinding aan moord of strafbare manslag. Ek wonder of hulle ooit weet iemand kan skuldig wees aan moord sonder voorbedagte rade? Of sonder dat hy vooraf weet wie sy slagoffer gaan wees? Maar dit keer hulle nie om op Vuisboek uitspraak te lewer nog voor die beskuldigde getuig het nie.

Maar ek wil nie probeer slim klink nie. Daarvoor weet ek te min. Ek wil wel ‘n beroep doen op ‘n bietjie perspektief. Sommige mense glo mos sedert 1994 het alle regsreëls verander.

Moord word al verbied in die 10 Gebooie, maar omdat daar toe nog nie vuurwapens was nie, mog jy nie iemand doodslaan nie. Net so dateer groot dele van ons regstelsel eeue terug tot in die Romeinse tyd. Daar kom natuurlik gereeld stututêre wysigings by, maar opset of nalatigheid as skuldvorme is lank reeds deel van die Gemene Reg. Die kuns van kruisverhoor is eeue oud en sover ek weet was daar nie onlangs enige veranderings aan die gedragskode vir advokate nie. Wat ek dus sê, is dat Oscar se saak 50 jaar terug grootliks dieselfde sou verloop het as vandag, dalk met enkele uitsonderings, soos die beskikbaarstelling van getuieverklarings aan die verdediging.

Daar sou egter nie sulke deeglike mediadekking gewees het nie. Ons kla tog so maklik oor die media wat altyd net sensasie soek, maar ons vergeet dat sonder die media niemand eers sou geweet het van die Nkandla skandaal nie. Sonder die media sou ons ook bloedwinig geweet het van Oscar se verhoor. Ons kan dit op TV volg, of op Twitter, of op radio, of in die koerante. Daar was nog nooit sulke regstreekse dekking van ‘n hofsaak nie, en dis dalk waar die knoop lê.

Vir baie mense is dit hulle eerste eersterangse kennismaking met die kuns van kruisverhoor, maar onthou, net omdat jy dit vir die eerste keer sien, beteken dit nie dis die eerste keer dat dit gebeur nie. Daar is waarskynlik ‘n goeie rede hoekom die advokate dit nie doen soos jy dit sou doen nie. Enigiets kan verbeter word, maar onthou dat die reëls van kruisverhoor oor eeue verfyn is. Dis dalk nie perfek nie, maar die kanse dat elke Jan Rap en sy maat wat vir die eerste keer daarmee te doen kry dadelik daarop kan verbeter, moet tog skraal wees?

Tensy no knowledge dalk tog beter is as little knowledge?