Wie is Ian Wessels?

 

Ian Wessels het in die vorige millenium maklik gematrikuleer aan die Hoërkool Gimnasium in die Paarl, maar met moeite BA LLB op Stellenbosch geslaag, hoofsaaklik weens ‘n oormag versoekings wat besonder oorredend en/of sexy was. Daarna werk hy as staatsaanklaer in die landdros- en streekshof, maar vind dit baie frustrerend. Jy werk die hele dag net met kriminele – dis nou die beskuldigdes, nie die prokureurs nie! Daarom het Ian die mikrofoon in die hofsaal verruil vir die een in radio se ateljee. Daar kon hy darem meer lag – iets wat hy maklik en graag doen, maar nooit openlik in die hof kon doen nie. Deur die jare het hy enige denkbare program aangebied en elke fout gemaak wat ‘n omroeper kan hoop om nie te maak nie. Gelukkig het hy uit sommige darem iets geleer!

Ian was deel van die bestuurspanne van Radio Helderberg en OFM en is een van net ‘n handjievol mense wat die voorreg gehad het om by radio betrokke te wees op gemeenskapsvlak, sowel as kommersieel en nasionaal. Die meeste mense sal hom ken as die eerste en enigste aanbieder van Loslip, RSG se gewilde inbelprogram. Vir ses jaar het hy en luisteraars mekaar vermaak – én verduur! Dit is juis danksy die kermderms dat Ian sy eenmankomedie Ek’s Anoniem! geskryf het, en deesdae meer lekkerlag optredes en motiveringspraatjies doen. Luisteraars se groeiende negatiwiteit het hom laat besef hy moet ‘n groter verskil maak deur mense meer te laat lag sodat hulle vir ‘n rukkie van hulle sorge kan vergeet. Dit is sy roeping om met sy motiveringspraatjies gehore ook weer met nuwe hoop te inspireer en hulle op praktiese wyse te help om beide gelukkiger en suksesvoller te lewe. (Kyk bo-aan die tuisblad vir meer besonderhede van sy verskillende optredes.)

Ian is steeds by RSG betrokke as aanbieder van Regsake en leser van Antoniem se briewe. Van tyd tot tyd staan hy ook vir ander omroepers in. Ian het onlangs vir RSG ‘n lekkerlees boek oor humor in die regswêreld saamgestel wat deur Lapa uitgegee gaan word. Hy skryf ook ‘n weeklikse inspirasieblog vir Finesse tydskryf. Gaan lees dit gerus hier: www.voelgoed.co.za/blogs

In 2010 publiseer Ian sy eerste boek Loslippig en in 2011 maak hy sy debuut as komediant op die verhoog. Niemand was meer verbaas as hyself nie toe al 5 vertonings van beide sy eenmankomedies by die KKNK uitverkoop het. Hy voel egter dat hy die grootste verskil in mense se lewens kan maak met sy motiveringspraatjies vir die algemene publiek, die jeug en die korporatiewe sektor. Ian het duisende rande spandeer aan ‘n diepgaande studie oor hoekom sommige mense gelukkig en hoopvol kan lewe onder presies dieselfde omstandighede wat ander wanhopig en neerslagtig laat. Dié praktiese raad deel hy landwyd met gehore.

Toe hy Kreatiewe Hoof by OFM was, het Ian gekwalifiseer as Certified Professional Commercial Copywriter by die Radio Advertising Bureau in Los Angeles en hy skryf steeds radio-advertensies vir verskeie stasies. Hy tree ook gereeld op as stemkunstenaar vir advertensies en korporatiewe videos en doen vertalings.

Ian se persoonlike leuse is dat jou lewe deur jou keuses bepaal word. Jy kan nie kies wat met jou gebeur nie, maar jy kan altyd kies hoe jy daarop gaan reageer. Jy is dus vandag waar jy is grootliks as gevolg van die keuses wat jy gister gemaak het, en die besluite wat jy vandag neem sal bepaal waar jy more gaan wees. Jy kan nie oorbegin nie, maar jy kan wel vandag begin om ‘n nuwe einde te skep. Dis nooit te laat nie!

Op ‘n persoonlike vlak was die fliek The Bucket List ‘n keerpunt in Ian se lewe. Dit het hom laat besef dat sodra die einde in sig is, almal skielik nog ‘n klomp goed wou doen. Maar as jy vandag begin en elke dag voluit lewe, sal jy baie meer daarvan bereik én baie gelukkiger wees.

Ian is getroud met Liesel en hulle altwee waardeer goeie wyn en lekker eet. Gelukkig is daar in Johannesburg waar hulle woon byna onbeperkte geleenthede om die twee te kombineer!