Gasspreker

 

motivationKerke en ‘n wye verskeidenheid organisasies in die breë gemeenskap het dikwels ‘n gasspreker nodig vir geleenthede soos damesoggende en fondsinsamelings, maar hulle het reeds ‘n predikant en soek nie nog ‘n preek nie! As jy egter ‘n unieke mengsel van humor en nuwe inspirasie wil hê – kontak my by losliprsg@gmail.com. Jare op geselsradio het my geleer hoe diep mense in ‘n groef kan verval sonder om dit eers agter te kom. En tussen ‘n groef en ‘n graf is dit net die diepte wat wissel! Laat my toe om jou lag-lag uit joune te help. Jy is immers gebore om te lewe!

Ek kan die inhoud van my praatjie aanpas by spesifieke temas soos wat damesoggende dikwels het. Anders gebruik ek Jou Breintuin as tema. In jou tuin by die huis moet jy eers besluit wat jy daarin gaan plant. Dan moet jy dit in stand hou deur gereeld water te gee en die onkruid uit te trek – anders vat dit oor. Die toestand van jou tuin weerspieel jou ywer as tuinier.

Net so is daar ‘n figuurlike tuin in jou brein waarin jy met jou gedagtes saai. Jou lewe dra die vrugte en jy kan dit nie wegsteek nie. Jou brein is soos vrugbare maar neutrale grond waarin enigiets wat jy kies om te plant, sal groei. Die praatjie is gebaseer op Spreuke 4: 23: “Wees veral versigtig met wat in jou hart (gedagtes) omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”

Net soos in jou regte tuin, moet jy jou breintuin ook gereeld “water” gee deur doelbewus opbouende en positiewe gedagtes te plant en die negatiewe gedagtes – wat vanself opkom – uit te trek. En anders as wat baie mense glo, hoef dit wat jy dink nie met jou omstandighede ooreen te stem nie. Dis hoekom jy ryk suurknolle én vrolike armgatte kry!

Ek gee heelwat praktiese wenke wat jy maklik kan gebruik om gelukkiger en suksesvoller te lewe. Jy kan byvoorbeeld doelbewus dieselfde tegniek gebruik wat ‘n bruid onbewustelik toepas. Dit verklaar hoekom sy altyd op haar troudag maerder is as ‘n jaar voor die tyd, of ‘n jaar daarna. Dit sal ‘n voorreg wees om jou te laat lag en ontspan en weer met nuwe hoop te inspireer om Jou Breintuin geil te laat blom!

Kontak my by losliprsg@gmail.com en moenie vergeet om te sê waar ek moet optree en of jy al ‘n datum in gedagte het nie.