Ek’s Anoniem!

 

Ek’s Anoniem! is my eenmankomedie waarvan vyf vertonings by die KKNK uitverkoop het.

My ses jaar as aanbieder van die geselsprogram “Loslip” op RSG was die inspirasie om dit te skryf. Dit was opvallend dat anonieme inbellers altyd meer uitgesproke is as dié wat hulle name gee. Dit het my laat dink dat ons almal soms in situasies beland waar ons wens ons kon ook eerder anoniem bly – en meer spontaan en eerlik optree – as om hoflik en ordentlik te moet bly. Ons is dalk te bekommerd oor wat die mense sal sê, maar in die proses maak ons moordkuile van ons harte!

In “Ek’s Anoniem!” neem ek ‘n anonieme persona aan en bekyk ‘n klompie sulke alledaagse situasies, bv. funksies waar die drankies gratis is, stout kinders in winkels en lastige passasiers op vliegtuie. Egpare verstaan mekaar ook soms so verkeerd dat hulle agterna wens hulle kon liewer anoniem rusie gemaak het. En wat is die destydse Hoekie vir Eensames met al sy skuilname – en sy moderne aanlyn eweknieë – dan anders as ‘n anonieme soeke na liefde? Ek doen selfs ‘n stukkie leeuloop en ballet, maar genadiglik anoniem! Dowwe Dolla is my regisseur en dit was haar idee!

Hoewel Ek’s Anoniem! geskep is vir feeste en teaters, het ek dit ook al agter op ‘n sleepwa, op ‘n rugbyveld en in restaurante gedoen. Dus staan dit jou vry om die vertoning aan te bied as fondsinsameling, of by jou fees of teater. Kontak my by losliprsg@gmail.com en moenie vergeet om te sê waar jy wil hê ek moet optree en of jy al ‘n datum in gedagte het nie.