Jan 062017
 

Ek is baie bly vir al die matrieks se ouers wat trots op Vuisboek spog met hulle kinders se uitslae. Siende dat ek mos anders dink as die meeste mense, dink ek egter meer aan die matrieks wat nie so goed gedoen het nie, veral as hulle afsteek by vriende of familie se kinders. Vir party mense is dit mos ‘n skande op die huis! Ek wonder hoe voel hulle, en watse letsels van “ek is nie goed genoeg nie” dit op hulle gemoed laat. Daarom wil ek graag ‘n bietjie perspektief aan hulle bring.

Natuurlik is goeie punte nodig vir keuring om in te skryf vir sommige grade, maar mense met grade is niks gelukkiger as mense daarsonder nie. ‘n Graad verseker ook nie ‘n goeie inkomste nie. Die wêreld se 10 rykste mense het tussen hulle net 3 grade. Dit is ook ‘n feit dat mense wat A en B simbole in matriek gekry het, dikwels werk vir mense wat deurgeskraap het, of glad nie matriek het nie. Talle suksesvolle entrepreneurs het nie matriek nie. As hulle dit wel gehad het, sou hulle dalk salaristrekkers gewees het en nie entrepreneurs nie.

Daarmee sê ek nie verdere studie is nutteloos nie, net dat matriekpunte nie bepaal wie jy is nie. Swak uitslae maak jou nie minderwaardig nie en is hoegenaamd nie die einde van die wêreld nie. Ons is almal uniek en daar is vir ons almal unieke geleenthede, so moenie toelaat dat swak punte jou definieer nie. Moet net nie gaan lê en ‘n slagoffer word nie, want dan is jy in jou moer! Sulke mense sien probleme in elke geleentheid. Daar is egter ook geleenthede in elke probleem.

Sterkte aan almal wat nie waffers gevaar het nie. Moet jou nie steur aan mense wat sê jy kan iets nie doen nie. In elke matriekklas is daar iemand van wie onderwysers verkeerdelik gesê het hulle sal nooit iets bereik nie. Ek ken talle sulke mense wat uitgestyg het op talle gebiede. Gebruik dit as motivering en doen dit juis om daai mense se neuse in die stof te druk. Eendag kom baie gouer as wat jy dink.

As jou uitslae jou platgeslaan het, treur vandag en verwyt jouself vir ‘n rukkie. Dan staan jy op en stof jouself af en gebruik daardie selfverwyt as motivering om nooit weer so te voel nie. Aanvaar verantwoordelikheid vir jou toekoems en neem beheer daarvan. Sterkte!

 January 6, 2017
May 042016
 

Ek het laasnag ‘n verskriklike nagmerrie gehad. Snaaks ook – maar eers agterna! Ek droom ek gaan draf. Nou dit is reeds erg genoeg! Ek draf kaalvoet op ‘n voetpaadjie in die veld en van voor af kom ‘n ongewone voël aangedraf. Hy het die lyf van ‘n tarentaal, maar met die nek en kop van ‘n aasvoël en hy is so groot soos ‘n krismiskalkoen waarmee jy ‘n familie van 16 kan voer. Die uitdrukking op sy gesig is listig en gewetenloos…

Ons draf by mekaar verby, maar toe draai die dierasie om en begin my jaag!. Met alke tree wat ek gee pik hy my onder die voet. Ek draai om en probeer hom wegskop, maar hy laat hom nie afskrik nie. Nou is dit vlug of veg! Ek is te stadig vir vlug, toe kies ek maar veg. Ek kry hom in ‘n kopklem tussen my bene beet, maar nou moet ek hom laer as my knieë hou, anders kan hy my sleg beseer. Hy veg terug en ons rol al stoeiend op die grond rond. Later kry ek hom met my een been op die grond vasgepen en met die ander been probeer ek hom flou kap, maar hy wriemel so, ek kry net nie ‘n goeie hou in nie!

Toe word ek wakker van my vrou wat my skud en vra of sy die ambulans moet bel. My woeste geskoppery het haar laat dink ek kry een of ander seizure.

Nou wat beteken dit alles? Ek weet nie, maar ek glo drome praat dikwels met ons. Dit spruit uit iets in jou onderbewussyn. Ek kry dikwels sulke drome waar ek teen ‘n oormag baklei wanneer ek nie ten volle in beheer voel nie, of agter is met ‘n projek. Die droom is dan basies ‘n waarskuwing om my sokkies op te trek. Daar kan seker ander verduidelikings ook wees, maar ek is te bang om te hoor wat dit is. So that’s my story and I’m sticking to it! Praat jou drome met jou ook?

 May 4, 2016
Apr 192016
 

Die probleem met motiveringspraatjies is dieselfde as met kerkdienste – die mense wat die boodskap die nodigste het, is nooit daar om dit te hoor nie! Daar kan verskeie redes wees. Baie het opgegee en die groef waarin hulle lewe het ‘n gemaksone geword. Hulle hoop nog net om die Lotto te wen, maar koop selde ‘n kaartjie. Om beter te voel, blameer hulle alles en almal, maar vra nooit wat hulle self kan dan om gelukkiger en voorspoediger te lewe nie. “Wat help dit tog?”

Ander glo weer geluk en voorspoed is iets buite jouself wat as’t ware met jou moet gebeur. Sodra jy die bestemming bereik, sal jy eensklaps gelukkig wees. Ongelukkig is die land in so ‘n toestand dat net “hulle” ooit die magiese bestemming kan bereik. En moet tog nie eers probeer om sulke mense te help nie. Soos ‘n oom vir my gesê het: “Ek glo nie in die kak wat jy verkondig nie.” (Al is Spreuke 4:23 en Matt. 9:29 die basis van my motiveringspraatjie.)

Elkeen is natuurlik volkome geregtig om te glo wat hy wil, maar wat my op my reis van persoonlike groei laat vertrek het, was die vraag hoekom party mense gelukkig en hoopvol kan lewe onder presies dieselfde omstandighede wat ander moedeloos en verbitterd laat. Ek wou weet wat die verskil is. Soos wat ek antwoorde gevind het, het dit algaande my roeping geword om nie net mense te laat lag nie, maar hulle ook weer met nuwe hoop en motivering te inspireer. Ons is gebore om te lewe – nie om net ‘n doellose bestaan te voer nie. Gelukkig is daar ook baie mense wat diep binne hulleself nog hunker na meer, al het die lewe hulle al ‘n paar maal platgeslaan. Ek kan niemand dwing om na ‘n motiveringspraatjie te luister nie, maar die wat dit oopkop doen en bereid is om ‘n paar maklike praktiese wenke toe te pas, was nog nooit spyt nie.

Dis in ‘n poging om ‘n verskil in meer mense se lewens te maak dat ek besluit het om ‘n gratis motiveringspraatjie weg te gee. Dankie aan almal wat ingeskryf het. Erika is die wenner. Sy is betrokke by twee groepe wat ‘n verskil in die gemeenskap probeer maak. Barnabas reik uit na chroniese en akute siekes, sowel as mense wat swaarkry na die dood van ‘n geliefde. Emmaus fokus weer op geloofsgroei en verdieping. Erika kan self besluit of sy die praatjie wil aanwend as fondsinsameling of bloot as metode om hierdie mense te bemoedig.

Intussen moedig ek almal aan wat soos slagoffers voel en net kan dink aan alles wat verkeerd is om weer Spreuke 4: 23 te gaan lees. Die ou vertaling het gesê “dit wat die mens dink, dit is hy.” Slagofferdenke kan dus net daartoe lei dat jy ‘n slagoffer bly. Die nuwe vertaling lui: “Wees veral versigtig met wat in jou hart (gedagtes) omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”

Hopelik sit dit jou aan die dink om weer nuut te dink.

 April 19, 2016
Apr 152016
 

Dankie aan almal vir die mooi verjaarsdagwense. Ek het so baie om voor dankbaar te wees dat ek gedink het ek wil vanjaar vir iemand ‘n presentjie gee vir my verjaarsdag. Maar vir wie?

Baie mense het al so gewoond geraak aan hulle verwagtinglose bestaan, dat hulle nie eers meer besef hulle is in ‘n groef nie – en tussen ‘n groef en ‘n graf is dit mos net die diepte wat verskil. Dis my roeping om mense te laat lag en ontspan en weer met nuwe motivering te inspireer, dus wil ek graag ‘n gratis motiveringspraatjie weggee. Dis ideaal vir ‘n kerk of gemeenskapsorganisasie wat dit as fondsinsameling wil gebruik of sommer net nuwe perspektief en praktiese raad nodig het.

Afhangende van waar jy is, kan ons oor reiskoste gesels. Jy kan enige datum kies, mits ek natuurlik nog nie bespreek is nie. Al wat jy moet doen, is om kortliks te motiveer hoekom jy of jou organisasie verdien om dit te kry. As jy www.ianwessels.com oop het, klik op “Motivering” vir meer inligting en stuur dan vir my jou redes per e-pos na losliprsg@gmail.com of vanaf “Kontak my” op die webwerf.

Sukses hou van spoedige aksie, so wie is lus vir ‘n lekker kuiertjie wat jou weer nuwe woema sal gee? Ek soek ‘n waardige wenner en sal 9.00 op Dinsdag 19 April op FB aankondig en op my blog aankondig wie dit is.

Kyk intussen mooi na jouself!

 April 15, 2016
Apr 062016
 

Lag bly maar die beste medisyne en die Paarl en Genadendal is die eerste plekke waar ek gaan optree met my nuwe vertoning Loslippige Lagterapie. Dis ‘n versameling unieke lekkerlag grappies, stories en staaltjies en ek waarborg dat jy die meeste daarvan nog nooit gehoor het nie. Dis geskik vir die hele gesin en dek ‘n baie wye spektrum van verskillende soorte humor.

Ek gee jou ook ‘n kykie agter die skerms in radio se ateljee waar die tongduiwel baie listig kan wees, en sluit van die snaaksste stories in uit my boek vir RSG oor humor uit die hof wat later vanjaar verskyn. Maak seker jy sit voorlangs, want ek gee ook heerlike ‘n bottel Slanghoek wyn weg aan ‘n lid van die gehoor. Kom lag saam en stap uit met ‘n ligter gemoed. Hier is besonderhede oor die vertonings.

Op Donderdag 21 April tree ek in die Paarl se stadsaal op ten bate van my ou laerskool, WA Joubert. Skakel die skool by 021-8722832 om jou kaartjies te bespreek of stuur ‘n e-pos vir Hendrien by admin@wajoubert.co.za.

Vrydagaand 22 April kan jy in Genadendal kom saamlag ten bate van die Victoria Dienssentrum vir bejaardes. Kaartjies is spotgoedkoop en beskikbaar by die sentrum self. Jy kan ook hulle kantoor skakel by 028 251 8182.

Dis my passie om mense te laat lag en weer met nuwe hoop te inspireer en ek wil vanjaar ‘n groter verskil maak in meer lewens. As jy ‘n optrede wil reël of ‘n gasspreker of MC soek vir jou funksie, kontak my by losliprsg@gmail.com.

 April 6, 2016